belydende-gelowiges-stel-teleur-(audio
BELYDENDE GELOWIGES STEL TELEUR – ‘n OPE BRIEF
Ons deel graag ons persoonlike ervaringe en ondervindinge van die afgelope 10 jaar as gelowiges op die Weg van Waarheid. Dit word ook nie op enige persoon spesifiek gemik nie, maar in die algemeen. ONS DEEL DIT OMDAT ONS GLO ONS IS NIE DIE ENIGSTES WAT SULKE ERVARINGE BELEEF NIE, EN DAT DIT IN DAARDIE SIN AS BEMOEDIGING MAG DIEN OMDAT ONS GLO ONS IS NIE ALLEEN HIERIN NIE.
Ons is baie hartseer, bedroef en vol smart weens wat ons al tot nou toe beleef het met belydende gelowiges op die Weg van Waarheid, en dit is moeilik om selfs hierdeur ons harte werklik ten volle uit te stort. Keer op keer word die wind uit ons seile geslaan met teleurstelling vanaf belydende mede-gelowiges wat só mooi voorkom.
Vertroue ontbreek onder die meeste belydende gelowiges. Lojaliteit bestaan byna nie. Ons soek vir jare al daarna omdat ons dit het om te gee, maar ons vind dit steeds nie. Al waar ‘n vorm van lojaliteit wel bestaan is waar belydende gelowiges iets uit ons wil gewin, en wanneer dit nie gebeur nie tree dislojaliteit en wantroue in. Dit kom voor asof elkeen sy/haar eie verskuilde motief het terwyl heuning om ons monde gesmeer word. Ander weer gebruik die Woord van Vader YHWH om ons in dinge of dade in te boender/forseer wat óf nie Skriftuurlik is nie óf eenvoudig net ‘n platform wil skep om ons te beheer op een of ander manier. Ons was selfs al gedreig op verskeie maniere, en dit van belydende gelowiges af!
Daar word elke keer van ons verwag deur belydende gelowiges om aan sekere vereistes en liefdesbedieninge te voldoen, maar ons vind weining dieselfde terug van hulle kante. Praat is groot, maar dade is dood. Juis ons wat wel iets tot uitvoering bring word dan gepik.
Ons word dan ook vermaan, bestraf en getugtig wanneer ons volgens belydende gelowiges se verkeerde persepsies aangaande ons nie opgetree het soos hulle verwag het nie. Diegene met die balke in hul oë werk hard om diegene met die splinters in hul oë te vermaan en tereg te wys.
Ons vind sover elke keer dat belydende gelowiges wat op ons lewenspad kom, ons nie werklik leer ken nie, en weens hul gebrekkige kennis van ons asook die oorvloedige wanpersepsies en leuens wat van ons gevorm word daardeur, word ons meestal onnodig wantrou, onregverdig geoordeel, bestraf, vermaan, getugtig en/of eenvoudig uitgeskuif. Ja, mens moet dit te wagte wees, ons weet, maar dis hartseer wanneer dit kom vanaf diegene wat jy eintlik met jou lewe moet kan vertrou! Ek neem as voorbeeld ‘n onlangse geval waar daar ‘n misverstand weens ‘n kommunikasie-persepsie oor ‘n sekere aangeleentheid voorgekom het: dat die betrokke Broer sy eie doop wat ek wou behartig gekanselleer het omdat daar kwansuis nou “gevoelens” ontwikkel het weens die misverstand. Wat het geword van geestelike volwassenheid om misverstande op te los? Wat het geword van lojaliteit? Wat het geword van Broederskap is sterker as onbenullighede?
Telkemale wanneer ons opreg van hart, met liefde, lojaliteit en vertroue uitreik op ons unieke manier na belydende gelowiges wat op ons lewenspad kom, vind ons dat hulle soos ‘n giftige slang omdraai en ons pik, en dan word óns as die slang in die verhaal afgemaak en verwerp. Die klein dingetjies word nooit raakgesien nie. Die gebrek aan ware liefde, omgee, eenheid, vertroue en lojaliteit onder belydende gelowiges is skokkend, verbasend, en vir ons baie skrikwekkend. Dit maak mens regtig bang!
Skinder en leuens is aan die orde van die dag, en dit skeur die reeds klein groepies uitmekaar, nie eens om te praat van die rebelse Jezebel-vrouens wat op hulle manne se koppe sit nie!
Ons het gedink en gehoop dat die gelowiges wat bely hulle wandel in die Weg van Waarheid werklik opregte mense is in wat hulle bely, omdat ons onsself bitter graag met sulkes wil assosieër en omring. MISKIEN IS SOMMIGES VAN HULLE WERKLIK OPREG VAN HART, NET VADER ALLEEN WEET. Maar tot dusver word daardie gedagtes en hoop elke keer teleurgestel. Daardie eenheid onder gelowiges, glo ek, sal eers plaasvind wanneer ons Meester Yahshua weer kom en dinge met tugtiging kom regstel. Vir nou is dit die klassieke geval van “daar is geen koning in die lnad nie, en elkeen doen wat reg is in sy eie oë,” soos daar in die Boek van die Rigters ook geskrywe staan.
Word Almagtige YAHWEH nie belaster nie!?
Mag ons hemelse Vader die oorblyfsel wat begin ontwaak het, barmhartig wees, en mag die geveinsdhede van ons af gereinig en gelouter word deur die komende smeltkroes sodat ware opregte liefde, omgee, vertroue, lojaliteit en eenheid onder ons kan ontwikkel en groei tot ‘n hegte eenheid wat nie verbreek kan word nie. In Yahushua die Gesalfde Een se Naam. Amein.
...
https://www.youtube.com/watch?v=5-3mh8SVZfA
Transaction
Created
2 weeks ago
Content Type
Language
video/mp4
af